(A/G)
1. O goedheid Gods, hier nooit volprese! Wie word daardeur nie diep getref? Hoe snood ondankbaar is die wese wat nie sy hart tot U verhef!
Aan U alleen sy dank en ere -
laat dit my lus, my lied hier bly! Vergeet, my siel, dan nooit die Here, want nooit vergeet die Here my.
2. Wie bou my liggaam wonderkunstig? Die God wat niks van my behoef. Wie lei my daagliks so goedgunstig? Die God wat ek so diep bedroef. Wie werk in my gemoed die vrede, wie sterk my gees met nuwe krag, wie deel my soveel seën mede?
Is't nie sy arm, so sterk van mag?
3. Gedenk, o siel, die ander lewe, jou toegewese erfenis,
waar jy van heerlikheid omgewe, God ewig sien gelyk Hy is!
Juig dan, my siel, in dié verwagtig, dit het die duurste prys gekos:
die Lam van God, gelei ter slagting, het ons van sondeskuld verlos.
4. Sou ek dié God dan nie vereer nie, sou ek sy goedheid nie verstaan?
Sou Hy my raad gee, ek nie leer nie, die weg wat Hy my wys, nie gaan? Nee, Heer, U rig my wil en strewe;
u Woord bly my bestendig by; U moet ek liefhê heel my lewe, en ook my naaste min soos my!
5. Dit is my dank, dit sy behae:
ek moet volkome wees soos Hy;
is dit my doelwit al my dae,
dan pryk sy heerlik' beeld in my. As Hy my sterk deur sy genade, sal ek in sy gebooie bly,
en doen ek dikwels nog die kwade, tog héérs die sonde nie in my.
6. Dat dan u sorg en troue hoede,
o God, my steeds voor oë bly!
Dan sterk dit my gestaag ten goede om heel my lewe U te wy!
Dit lei my voort in blye dae,
dit troos my in die bangste nood, en leer my sonder skrik verdrae
die aaklig' denkbeeld van die dood!