(C)

1. My volk, Ek self het jou verwek, met liefdekoorde jou getrek, verlos uit sondeheerskappy, behoed, jou aan die hand gelei, gedra selfs, en genees jou hart van al sy droefheid en sy smart.

2. Maar jy het afgeval van My,
van My wat jou wou leer en lei;
jy eer My nie met rein gemoed, erken die hand nie wat jou voed: hoe ook gewaarsku deur my Woord, dwaal jy op sondaarsweë voort.

3. My hart is omgekeer in My en opgewek my medely.
Hoe kan Ek jou, o Efrai?m, soos Adma en soos Seboi?m, ooit prysgee; jou, o Israel, soos Sodom en Gomorra stel?

4. Ek sal my toorngloed nog weerhou en wag op ootmoed en berou;
nog eens spreek Ek, en jy sal kom al sidd'rend tot my heiligdom,
soos voëls na hul tuiste keer - want Ek is God en niemand meer!

5. "Dis nie jou dood wat Ek begeer,
maar lewe^en dat jy jou bekeer!"
"My volk," roep God, "bekeer jou nou, keer jou tot My en word behou;
verlaat jou bose weg voortaan - waarom sou jy verlore gaan?"