(G/F)

1. U waak, o Heer, in storm en node, waak deur die lange winternag,
U weer die angel van die koue
en oor ons kuddes hou U wag.
Die vloed van ons bekommeringe het U gewend, en deur u trou
die maat van ons nooddruftighede voorsienig in u hand gehou.

2. Nou staan die hemel wyd en helder oor heel ons hoogland uitgebrei; nou rus die wonderbare kragte
wat U in aardeskoot berei;
nou dra die winde koue^en kommer oor bleke veld en sluimersaad
wat wag, tot op u wenk, o Here, verrys die krag van somerbaat.

3. Verrys uit doodsbleek wintervelde weer op u tyd die gras en graan, dan sal weldra die naakte bome in ryke drag van skoonheid staan; ons sal ook wis soos sluimersade ons eindelike heil verbeid,
en uit die dood se kille kluister herrys in ongeskondenheid.

4. U wat die blye daerade,
die son en winternagte skenk, en ons in vreugde en in node, selfs in die doderyk gedenk,
o Here, groot is u genade,
en ryk die horing van u heil, wat uit u diep verborgenhede bestendig vloei en sonder peil.