(D)
1. Hoe sal dit dan, o dan eens wees, as ek, verlos van smart en vrees, ontwaak tot hoër waarde;
nie meer gekwel deur sondigheid, onthef van alle sterflikheid,
nie meer as mens op aarde! Wees bly
in my,
voel tot sterking
hier die werking
van dié lewe,
siel, aan jou van God gegewe!
2. Verbly ek my, tog beef my hart - hoe druk my nie die juk van smart, die vloek van sonde neer nie!
Maar waar my God verlig die druk, my hart versterk, versag my juk, daar kwel dit my nie meer nie. Jesus
Christus,
leer my strewe
so te lewe,
so te sterwe,
dat ek eens u heil mag erwe!
3. Waarom nog so beangs, my gees, vir graf en dood nog so bevrees? In God is jou behoue,
want Hy beskik jou deel en lot; die donker doodsweg voer tot God, dit voer tot blye^aanskoue.
Dié rus,
Gods rus
gaan ons denke,
al ons denke
ver te bowe,
onuitspreeklik ver te bowe.
4. Breek dan my laaste dag eens aan dat ek die doodsdal in moet gaan, wanneer my einde nader,
wanneer my lewenslig hier faal
en donker doodsnag oor my daal - vat U my hand, o Vader!
Jesus
Christus,
hoor my bede,
skenk u vrede
in dié ure,
vrede in my sterwensure!
5. Hoe sal dit dan, o dan eens wees, as ek, verlos van smart en vrees, Hom beter loof na waarde: volmaak in onbesmette deug,
'n deelgenoot van hemelvreug, nie meer as mens op aarde! "Heilig,
heilig,
heilig" - sing ons;
aan U bring ons
lof en ere,
U wat was en sal wees, Here!