(D)

1. Sing, Christenskaar, die skoonste stof, sing Jesus Naam, sing Jesus lof!
Hy het vir ons op aarde
vanuit sy hemel neergedaal,
die losprys hier vir ons betaal
van goddelike waarde.
Al is die aard' met smart vervul, in diepste duisternis gehul,
al stamel ook ons tonge:
hier het die Heiland ons versoen, hier het Hy aan Gods eis voldoen, sy lof sy hier besonge!

2. O Seun van God, waaragtig mens, U, Jesus, is ons roem en wens, Gods beeltenis op aarde!
U grootheid blyk, hoe meer versaak, U het deur lyding U volmaak
en gee die mensheid waarde. Val, volke, val voor Jesus neer; my siel, sing u Verlosser eer, aanbid die Man van Smarte! Hy tog het aan Gods majesteit voldoen vir tyd en ewigheid
tot heil van menseharte.

3. Op aard' het U gely, gesterf,
so wondervol ons heil verwerf, ons van die vloek ontsondig.
Hier het u bloed die grond benat, die graf u liggaam eens bevat, hier word u roem verkondig.
Dat elke knie hom voor U buig, dat elke tong van U getuig!
Elk' hart, U oorgegewe,
vind in u liefde nuwe krag;
U laat deur u verlossingsmag u beeld in ons herlewe!