(F)

1. 'k Het Jesus lief, Hy is my lig en krag;
'k sal my tot Hom in angs en droefheid wende, want Hy alleen, die Redder uit ellende,
verlos my siel van skuld en sondemag!

2. 'k Het Jesus lief, Hy't aan Gods reg voldoen; geen sondevloek kan ons nog langer tref nie! Sou ons die hoof nie vrolik opwaarts hef nie - sy Midd'laarsbloed het ons met God versoen!

3. 'k Het Jesus lief, Hy maak ons harte rein
deur Woord en Gees, en breek die sondebande wat Hom tot droefheid strek en ons tot skande; Hy laat sy beeld al meer in ons verskyn.

4. 'k Het Jesus lief, Hy lei my langs sy pad, bestuur daarop my kinderlike skrede;
Hy sien vooruit die wank'ling van my trede, en voor ek val, het Hy my hand gevat.

5. 'k Het Jesus lief, met 'n verruimde hart
dra ek wat Hy my oplê, sonder klae;
sy doel, sy wil is ook my welbehae;
wat Hom mishaag, is my verdriet, my smart.

6. 'k Het Jesus lief, Hy sal my deur sy raad gelei tot aan die laaste van my dae;
dan word my siel van alle sonde^ontslae, dan dank ek Hom, selfs vir gelede kwaad.

7. 'k Het Jesus lief, die blye dag genaak
wat alles voer tot salige volending;
al tref my ook die graf met ruwe skending - geen nood, daar Hy, Hy self my stof bewaak.

8. Verlostes, juig, ja, wees in Jesus bly,
waar ons aanbiddend saam voor Hom vergader! Tree dankbaar wenend tot sy voete nader -
wie, wie verdien ons trane meer as Hy?