(F/G)

1. Jesus, wat my siel bemin,
laat my aan u boesem leun,
as die watervloed begin,
as die onweer breek en dreun!
Dek my, Heiland, lei my voort,
wyl die lewenstorme woed,
veilig deur die donk're poort
tot ek U hierna ontmoet!

2. Ander skuilplek het ek geen,
tot U kom ek hulpeloos!
Laat, o laat my nie alleen,
wees U steeds my steun en troos!
Op U, Heer, is al my hoop,
help my, lei my deur gevaar;
hou u hand ook oor my hoof,
laat u vleuels my bewaar!

3. U, o Heiland, is my lus,
U alleen bevredig my!
U bied aan vermoeides rus;
maak gebondenes weer vry.
U is reine heiligheid,
ek, helaas, so snood bevlek;
U, vol heil en heerlikheid,
ek, met skuld en smet bedek.

4. U gena is sonder peil,
al my sonde wis U uit;
laat die waters van u heil
'n fontein in my ontsluit!
Laat my uit u bronne, vry
put die volle saligheid;
dat u heilfontein in my
opspring tot in ewigheid!