(F)
1. Welkom, o stille nag van vrede
onder die sterreprag,
wyl stemme uit die ou verlede
oor sterrevelde ruis.
Koor
Kersfees kom, Kersfees kom -
bring aan God die eer!
Skenk u vrede in ons harte
in hierdie Kerstyd, Heer.
2. Hoor jy hoe sag die klokke beier
in eeue-oue taal.
Kyk, selfs die nagtelike swye
vertel die ou verhaal.
3. Breek nou die band, so sê die boodskap,
van sonde wat jou bind;
hierdie geleentheid is so kosbaar,
as jy sy liefde vind.
4. Voel jy ook nou sy warme liefde
as ons die dag gedenk,
toe Hy sy Seun aan ons gestuur het -
ons grootste Kersgeskenk!