(D)

1. Loof, loof die Heer van alle here! Verhoog sy Naam en gee Hom ere, en bring sover daar volke is,
sy dade in gedagtenis;
en spreek met aandag en ontsag van al sy wonders, dag aan dag.

2. Laat almal juig met blye galme;
sing voor die Heer jul vreugdepsalme; beroem jul in sy heil'ge Naam.
Laat almal wat Hom soek, nou saam hul hart verenig tot sy eer
en hul verlustig in die Heer.

3. Vra na die Heer der leërmagte,
die Heer oneindig groot in kragte; soek daeliks sy aangesig;
gedenk die werk deur Hom verrig, die wonders deur sy hand gedaan, en wil sy strawwe gadeslaan.

4. O volk uit Abraham gebore,
uit Jakob, deur God uitverkore;
o volk wat soveel guns geniet - verhoog die Heer in sang en lied! Hy's onse God - 'n wêreldrond vrees vir die oordeel van sy mond.

5. Die Heer wat van geen wankel weet nie, sal nimmer sy verbond vergeet nie;
al sy belofes bly van krag
tot in die duisendste geslag.
Verbond met Abraham, sy vrind, bevestig Hy van kind tot kind.

6. Die Heer wat nooit sy waarheid krenk nie, sal Hy dan nie die eed gedenk nie
aan Isak, in sy trou gesweer?
Hy het dit ook vir Jakob weer
as wet gegee, as bondsbestel in ewigheid aan Israel.

7. Toe hul soos pelgrims rond moes swerwe, het God gesê: "'k Sal jul laat erwe
die land van Kanaa?n - dit is
jul afgemete erfenis."
Die volk was swak nog en gering en in die land 'n vreemdeling.

8. Van volk tot volk het hul geswerwe voor hul geslag die land kon erwe; hul het gegaan van land tot land, beveilig deur Gods goeie hand;
en konings wat hul wou verdruk, moes onder sy besoeking buk.

9. Hy stuur aan koninge die wete:
"Tas my gesalfdes, my profete,
nie aan nie met onheil'ge hand."
Hy roep 'n honger in die land,
Hy breek daar alle staf van brood - Egipte raas van hongersnood.

10. God het in wysheid lank tevore vir hul 'n redder uitverkore:
'n Josef gaan in slawerny
en in gevang'nisbande ly:
hul het sy voete vasgedruk
en onder ysters hom laat buk.

11. Totdat die Heer in nag en duister
sy woord vervul het en dié kluister verbreek het, moes hy eensaam wag, deurlouterd in die lydensnag.
Maar eind'lik breek die daagraad aan: die heer van volke^'t hom ontslaan.

12. Die volkeheer verbreek sy bande en stel hom oor sy huis en lande, om in deurlugte ryksbewind
die vorste na sy lus te bind;
en al die oudstes van die staat dié luister na sy wyse raad.

13. Daarna kom Jakob in sy grysheid, gedryf deur honger, waar die wysheid van Josef hom versorg met brood. God maak vir Israel daar groot,
totdat die groei van sy geslag Egipte tref deur tal en mag.

14. Die volkie word 'n leërskare, maar God het die Egiptenare se liefde omgekeer in haat. Faro se knegte smee 'n raad om Israel deur druk te dwing en om hul listig om te bring.

15. Maar God stuur Moses, wat tevore deur Hom met Aron was verkore. Hul twee voer toe Gods raadsbesluit deur tekens en deur wonders uit,
hul toon aan Gam se ganse land die strawwe van sy strenge hand.

16. Hy slaan Egipte met sy plae:
in nag verander Hy hul dae.
Hul twee weerstaan nie die bevel van God, die God van Israel.
Hy maak hul waterstrome bloed en laat hul vis sterf in die vloed.

17. Die kikvors kruip in al hul wonings, tot in die kamers van hul konings. Hy spreek, en op sy wonderwoord vlieg ongediertes ylings voort; muskiete kwel aan alle kant
die volk van Faro's wonderland.

18. Hy dek hul lug met wolke^en donder en werp die haelsteen na onder,
wat, met die bliksem in verbond,
hul wynstok neerslaan teen die grond; hul vyeboom en elke plant
verbreek Hy in hul ganse land.

19. Nog twis God met die wederstrewers: nou kom die sprinkaan en die kewers en eet hul landerye af.
Dan volg die allerswaarste straf:
die eerstelinge van hul krag verslaan Hy in die laaste nag.

20. Nou trek Gods volk na? smartverlede, en niemand struikel in sy skrede;
hul trek vol blydskap deur die nag, met goud en silwer ryk bevrag. Egipte juig met vreugd'geskal,
want skrik het op die land geval.

21. God brei 'n wolk uit oor die stamme om hul te dek teen sonnevlamme; Hy gee hul in die donker uur
die ligkolom, 'n wondervuur.
Hul bid, en Hy, die milde Heer, stuur kwartels op hul laer neer.

22. Hy het hul daagliks begenadig, met manna, hemelbrood, versadig; Hy het die rots vir hul ontsluit en water vloei oorvloedig uit;
'n stroom spoel oor die dorre land waarop die son se vlamme brand.

23. God het gedink, uit welbehae, aan sy verbond uit vroeër dae: aan wat aan Abraham, sy kneg, in vrye guns was toegeseg.
So het die Heer uit slawerny sy volk met blydskap uitgelei.

24. Hul erf die Kananiet se lande en al die arbeid van sy hande - dit gee die Heer hul in sy trou dat hul sy wet sal onderhou,
en in hul weë Hom sal eer. Loof, halleluja, prys die Heer!