(G)

1. Ek sal van ganser harte, Heer,
u wonders groot maak en U eer. Ek sing omdat ek in U bly is, aan wie my lofsang toegewy is;

2. omdat my vyand, hoe gedug, teruggewyk het en gevlug;
omdat hy voor u aanskyn wég is, en, Heer, my saak deur U besleg is.

3. As regter 't U die troon bestyg,
U het die heidendom gedreig,
sodat die sondaars uitgedelg is
en daar van hul geen stam of telg is.

4. Die vyande het omgekom;
hul stede is nou stil en stom, kliphope waar geen pad of spoor is, dis al wat van hul grootheid oor is.

5. Maar bo wat wissel en vergaan, bly ewig God se rykstroon staan. Hy vel sy vonnis uit die wolke, regverdig oordeel Hy die volke.

6. Die Heer sal, soos 'n rotsskans, dek wie hier getrap word op die nek. Hy is 'n vesting hoog verhewe,
en sal in nood hul nooit begewe.

7. Die hart van hul wat U bely, sal in u Naam standvastig bly. Dié wat U soek in stil vertroue, is by U veilig en behoue.

8. Psalmsing Hom wat op Sion troon,
vertel sy roem waar volke woon!
Geen bloedskuld waar Hy nie van weet nie, of hulpgeroep wat Hy vergeet nie.

9. Bewys aan my genade, Heer,
en sien op my ellende neer!
U, wat my aan die dood ontruk het, kyk, hoe my haters my verdruk het!

10. Dan vind my tong weer nuwe stof, in Sions poort meld ek u lof.
Dan sing ek bly van u genade,
so groot in nuwe reddingsdade.

11. Die heid'ne, deur hul waan mislei, stort in die kuil vir my berei;
die strik wat hul vir my bestem het,
is dié wat nou hul voet omklem het.

12. O oordeel vol geheimenis,
wat meld dat God regverdig is!
Hoe raak verstrik in eie nette
wie geen ontsag het vir Gods wette!

13. Die goddelose moet weer wyk, teruggaan na die doderyk;
die grafkuil wat God wyd gemeet het, daarin versink wie Hom vergeet het.

14. Nooddruftiges wat kwyn in leed, sal God nie eindeloos vergeet;
Hy sal die hoop van hul bestendig wat hier verdruk is en ellendig.

15. Staan op, o Heer; die mens word sterk! Vergeld die heid'ne na hul werk! Verskrik hul, groot in goddeloosheid, maar nietig voor U in hul broosheid!