(D)
1. Die Heer is God, 'n eenge Heer; die Heer is God, en niemand meer. Erken dit, alle volke,
van waar die sonlig smôrens blink tot waar dit in die purper sink
van sagdeurglansde wolke.
Die Heer is God, want Hy formeer die dag en nag wat wend en keer na sy verordeninge.
Hy bring die heil en onheil voort, hul luister na sy almagswoord - die Heer doen al dié dinge.
2. Stuur God ons sy bevrydingswoord - bring dan, o heemle, wolke voort, waaruit soos reënstrale
geregtigheid van uitkoms sing,
en ons die blye boodskap bring van skoonste seëprale.
Dan sal die aarde^uit vrugb're kluit die heil en vrede uit laat spruit - geen onheil is daar meer nie!
Die reg sal uit die aarde breek, want God die Heer het dit gespreek, en niemand kan dit keer nie.
3. Wee hom wat met sy Maker twis, wat, waar hy net 'n potskerf is, Gods weg met hom gewraak het! 'n Erdewerk, 'n nietigheid,
kan dit sy Maker ooit verwyt
dat Hy hom so gemaak het?
Maar nee, ons buig ootmoedig neer, ons wil die hoë hande eer wat ons só toeberei het,
ons in dié hande altyd stel;
as kinders, Heer, die werk vertel waardeur U ons verbly het.