(G)

1. Wie sou nie Gods goedheid prys nie, dank bewys nie!
Laat ons lofsing tot sy eer!
Loof Hom wat die sware droogte uit die hoogte
van ons afgewend het weer!

2. Wreed het felle sonnebrande op die lande
neergeskroei, laat krul die graan; opgedroog selfs sterk riviere; arme diere
het van honger haas vergaan.

3. Maar U, Heer, het in erbarming ons verarming
aangesien en ons gered, openbaar u alvermoë
voor ons oë,
en verhoor ons smeekgebed.

4. Op u magwoord het geswinde noordewinde
gans die lugruim toegedek; eensklaps is die hemelsluise met geruise
oor die aarde oopgetrek.

5. Ylings het uit hemeldiepte snelgewiekte
donderwolke saamgepak;
op u magwoord het die reën soos 'n seën
op die aarde neergesak.

6. Ja, nou jubel bly ons harte, vry van smarte:
Heer, wat is u goedheid groot! U, deur eind'loos mededoë steeds bewoë,
skenk weer lewe uit die dood.

7. Hoor, o Heer, vir ander streke ook ons smeke,
waar daar nog geen uitkoms is; skenk ook daar u milde reën, reddingseën
vir die hart vol kommernis!