(C)
1. Bring my die ou-ou tyding,
die tyding van Gods heil,
van Jesus' sondaarsliefde,
die liefde sonder peil.
O bring dit my eenvoudig,
soos vir 'n kindjie klein,
want ek is swak en nietig,
ja, hulp'loos en onrein.
Koor
Bring my die ou-ou tyding, (3x)
van Jesus' sondaarsmin.
2. Bring my die tyding duid'lik,
dat ek dit kan verstaan;
vertel my hoe die Heiland
my van die vloek ontslaan.
Bring my die tyding dikwels,
want ek vergeet so gou;
lank voor die middaghitte
smelt reeds die môredou.
3. Bring my die tyding saggies,
laat my daar stip op let;
ek is 'n arme sondaar -
net Jesus kan my red!
Bring my die tyding telkens,
sodat dit my kan wees
'n bron van troos en sterkte,
veral in smart en vrees.
4. Bring my dieselfde tyding
en wil my dan versterk,
as wêreldsin en sonde
in my verslapping werk;
en as ek gindse glorie
met brekende^oog aanskou,
bring my dan nog die tyding:
"Slegs Jesus kan behou!"